HENNIE THERON – AUDIO CLIP-DIE GROOT ONTBYT
15/04/2016
WANNEER IS ONTSLAG REGVERDIG?
18/05/2016

HENNIE THERON – GootFM Onderhoud: 26 April 2016 – Riva

GrootFM Onderhoud: 26 April 2016 – Riva

1. Hennie, jy het voorheen met Su-An gesels oor wanneer ‘n mens kan eis van die Padongelukkefonds (POF) en hoe dit werk. Jy het ook gesê dat daar wel nog geld is vir betaling aan suksesvolle eisers, maar wat is die situasie as my mediese fonds reeds my mediese kostes vir my betaal. Kan ek steeds van die POF eis?

Selfs al het jou mediese fonds jou mediese kostes betaal, kan jy steeds daardie uitgawes van die padongelukkefonds eis. Die feit van die saak is dat jy betaal jou mediese fonds om jou asetware te indemnifiseer teen mediese en hospitaal kostes. Met ander woorde jy betaal hulle ‘n bedrag geld elke maand om jou te verseker teen mediese uitgawes, soortgelyk aan ‘n versekerings-polis. Jy kry nie jou geld terug indien jy geen mediese kostes eis nie, maar indien jy wel mediese kostes aangaan, weet jy, jy is gedek. Daarom bly die mediese kostes aangegaan, jou verlies en moet jy eintlik dit eis as deel van jou eis teen die POF. Jou mediese fonds kan egter van jou verwag om daardie geld wat jy so terugeis, aan hulle terug te betaal in terme van die ooreenkoms of polis met die mediese fonds. Ek persoonlik dink dis ‘n bietjie onbillik.

2. Indien ek my eis met POF skik of die eis word in die hof afgehandel en ek ontdek ‘n jaar later dat ek nie meer my werk kan doen soos voor die ongeluk nie, kan ek die eis heropen by POF en dan ‘n nuwe eis instel vir my verlies van inkomste?

Wanneer ‘n mens jou eis skik of finaliseer met die POF, moet jy altyd seker maak jy sluit alle skades in, soos byvoorbeeld enige toekomstige verwagte mediese uitgawes, of dan enige moontlike toekomstige verminderde verdienvermoë of verlies van inkomste. Die rede hiervoor is dat die eisproses onderhewig is aan ‘n sogenaamde “once and for all” reël. Dit beteken as jy die eis skik of vonnis in ‘n hof kry, is dit die einde van jou eis en kan jy nie later weer iets byvoeg nie. Dit is weereens ‘n goeie rede waarom ‘n ervare prokureur jou eis moet voorberei.

3. Ek verstaan dat die mediese deskundiges wat in so ‘n eis gebruik word, baie duur is en in meeste van die gevalle dadelik betaal moet word. Hoe werk dit en is hulle regtig nodig?

Dit is in die meeste gevalle van kardinale belang dat ‘n eiser deskundige mediese verslae moet bekom. Sonder hierdie verslae sal ‘n eis nie bewys kan word nie. Hierdie verslae is baie duur (afhangend van watter tipe deskundige dit is kan die verslae wissel tussen R 10,000 tot R28,000) en die deskundiges verlang om betaal te word, alvorens die verslae beskikbaar gestel kan word. In meeste gevalle is ten minste drie verslae van drie tipes deskundiges nodig, wat die kostes van so ‘n eis baie duur maak. Hierin kan ‘n prokureur weereens van onskatbare waarde wees deur daardie kostes te finansier of namens die kliënt te betaal, tot tyd en wyl die eis gefinaliseer is en die uitbetaling van die POF ontvang word.

4. Hoe lank neem dit om ‘n gemiddelde eis af te handel?

My ondervinding is dat 80% of meer van behoorlik saamgestelde eise langer as ‘n jaar neem om te finaliseer. Meer kompleks eise kan dan ook tot 3 of selfs 4 jaar neem om afgehandel te word, afhangend van die aspekte wat die POF in dispuut plaas, m.a.w. watter aspekte deur die POF ontken word en dit dan deur ‘n hofproses bewys moet word.

5. Waarom is die howe se betrokkenheid belangrik in die eisproses?

Die vraag kan gevra word of dit werklik nodig is om die sisteem onderhewig te stel aan ‘n proses waar die howe betrek word en of dit nie maar net ‘n administratiewe proses moet wees, wat baie vinniger afgehandel kan word nie. Die antwoord is nee. Indien die howe nie betrokke is nie, is daar geen manier om die aanbod wat die POF maak, te betwis of te verbeter nie. My ondervinding is dat die aanbiedinge van die POF baie minder is as wat die eise werklik werd is, daarom moet daar ‘n proses wees om ‘n billike betaling af te dwing. Voorts sal die afwesigheid van ‘n hofproses ook beteken dat die POF verewig kan neem om ‘n eis af te handel, sonder ‘n proses om hulle te dwing om aandag aan die eis te gee.